View
233
Download
14
Category
Preview:
Citation preview
ASSESSERINGSKAALNavorsingsontwerp/Inleiding:Probleemstelling, navorsingsvrae, doelstellings en sentrale teoretiese argument, uiteensetting van metode
- Goed uiteengesit. Metode word effektief beskryf.
15 13
Uiteensetting van teoretiese benadering
- Die teoretiese benadering is voldoende
20 16
Wetenskaplike argumentIntegrasie van teorie in argumentBevinding, gevolgtrekking en/of samevatting met besondere aandag aan oorspronklikheid en kreatiwiteit
- Teoretiese begronding voldoende- Bevindings goed en voldoende gestaaf
10 7
Teksbespreking (toepassing)
- Bespreking voldoende.- Goeie voorbeelde is verskaf.
30 28
Omvang van navorsingmateriaal gebruikSeleksie, sistematisering, hantering en integrasie van primêre en sekondêre bronne
- Genoegsame bronne is geraadpleeg.
10 8
Tegniese aspekte:Titelbladsy, inhoudsopgawe, tipografie, uitleg van geheelVerwysings in die teks en bibliografieTaal en styl
- Uitleg goed.- Bronverwysings nie orals korrek- Kyk na enkele taalsake in die teks aangedui.
15 13
Totaal 100 85
Referaat 1
Moedertaalonderrig in Suid-Afrika
-
-
1
Inhoudsopgawe
1. Inleiding..............................................................................................................................................2
2. Definisie van Moedertaal.................................................................................................................2
3. Moedertaalonderrig...........................................................................................................................3
4. Voordele van Moedertaalonderrig..................................................................................................5
5. Nadele van niemoedertaalonderrig:...........................................................................................9
6. Engels as onderrigtaal....................................................................................................................10
7. Moedertaal onderrig in Suid-Afrika:..............................................................................................13
8. Gevolgtrekking................................................................................................................................16
9. Bronnelys.........................................................................................................................................18
2
1. Inleiding
Dit is moeilik om te se wie meer benoud is op ʼn leerder se eerste skooldag, die ouer of die kind.
Maar as die leerder nie die taal praat waarin hy/sy onderrig moet word nie, word die benoudheid
verander in angstigheid (Mulley, 2012:22).
In Suid-Afrika is daar egter elke jaar duisende benoude en angstige leerders en studente wat as
gevolg van baie faktore nie in hul moedertaal onderrig word nie. Een van hierdie redes is
volgens De Wet (2000:38) dat die meerderheid Suid-Afrikaanse leerders en hulle ouers die reg
op moedertaalonderrig verwerp en ignoreer hulle navorsingsbevindings wat die voordele van
moedertaalonderrig beklemtoon.
Daar gaan in hierdie referaat gekyk word na wat ʼn geskikte definisie vir moedertaal is, wat
moedertaalonderrig behels en hoekom dit die beste uitweg is. Daar gaan ook ondersoek word
hoekom Suid-Afrikaners Engels as onderrigmedium verkies en of moedertaalonderrig in Suid-
Afrika wel die beste oplossing is.
2. Definisie van Moedertaal
“The mother tongue can be emphasized partly in its own right, as a self-evident human right,
and partly in order to be able to give ab ettera better instrument for coping with both the learning
of the second language and the learning of the other skills, and to include analysis,
understanding, evaluation and action in relation to societal questions of economic and political
power.”
(Skutnabb-Kangas & Cummings, 1988:394)
Suid-Afrika is ’n land van vele tale, tog moet talle sprekers/hoorders daagliks in hulle tweede of
derde taal kommunikeer. Baie van hierdie taalgebruikers is studente en skoliere wat nie in hul
3
moedertaal onderrig word nie. Om die impak van die bogenoemde verskynsel te ontleed is dit
belangrik om eers vas te stel wat met die term “moedertaal” bedoel word (Van Zyl, 2009:,68).
ʼn Baie basiese en tradisionele definisie van moedertaal is dat dit die eerste taal is wat ʼn individu
aanleer. Met ander woorde dit is die taal wat deur ʼn individu se gesinslede en familie gepraat
word. Juis hierom word die term huistaal as ʼn sinoniem vir moedertaal gebruik (Bornman, Pauw
& Potgieter, 2014:600)
Volgens Louwrens (2003:5) sal dié definisie van moedertaal as huistaal, nie deug nie. Die rede
hiervoor is dat hierdie eenvoudige opvatting, in ʼn veeltalige samelewing en tuisland soos Suid-
Afrika, te beperk is. Louwrens (2003:6) en Bornman et al et al. (2014:600) is wat die definisie
van moedertaal behels, eensgesind. Louwrens en Bornman et al et al. is van mening dat die
definisie van moedertaal ruimte moet los vir die individu wat meer as een moedertaal het. Juis
hierom is Skutnabb-Kangas (1998) se definisie van moedertaal die geskikste definisie vir ʼn
moderne Suid-Afrikaanse samelewing.
Volgens Skutnabb-Kangas (1998) kan ʼn moedertaal deur middel van die volgende kriteria
vasgestel word: Moedertaal kan eerstens vasgestel word deur te kyk na oorsprong, met ander
woorde dit is die taal wat ʼn persoon eerste aangeleer het. Tweedens word ʼn moedertaal bepaal
deur vaardigheid, dit wil sê die taal wat ʼn individu die beste verstaan. Die derde kriteria van
moedertaal is die funksie van die taal, dit het te make met die taal wat die meeste deur die
persoon gebruik word, in sy/haar alledaagse bestaan. Laastens word moedertaal bepaal deur
middel van identifisering, die taal waarmee ʼn individu identifiseer en waaraan ander die persoon
identifiseer.
Volgens Louwrens (2003:6) lê die waarde van Skutnabb-Kangas se definisie veral in die spasie
wat dit ʼn persoon bied om meer as een moedertaal te hê. Daarnaas kan ʼn persoon naas
sy/haar moedertaal nog ʼn taal aanleer, afhangende van die persoon se lewensomstandighede.
Skutnabb-Kangas (1998) se definisie is hierom ʼn realistiese opvatting van die waarde van taal
as ʼn funksionele kommunikasiemiddel in ʼn heterogene, meertalige samelewing.
3. Moedertaalonderrig
4
Die Grondwet van Suid-Afrika (1996) gee amptelik status aan elf tale naamlik: Afrikaans,
Engels, Ndebele, Suid-Sotho, Swati, Pedi, Tswana, Tsonga, Venda, Xhosa en Zulu. Volgens
Wet 108 van 1996 (aangehaal in Louwrens, 2003:5) is al die bogenoemde tale gelyk. Volgens
Wet 108 van 1996 moet daar gelyke moontlikhede om te ontwikkel, vir al elf amptelike tale,
geskep word. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal ook dat elke persoon geregtig is op
onderrrig in die taal van sy/haar keuse, waar dit natuurlik prakties uitvoerbaar is.
Die taal van onderrig in skole en tersiêre instansies, soos universiteite, in Suid-Afrika het egter
die laaste paar jaar groot opskudding veroorsaak. Moedertaalonderrig het die laaste dekade ʼn
warm debat geword en die onderrigtaal in skole en tersiêre instansies is ook besig om groot
kommer en konflik tussen verskillende taalgroepe te veroorsaak (Van der Ross, aangehaal in
Louwrens, 2003:5).
Die belangrikheid van moedertaalonderrig is iets wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Die
rede hiervoor is dat dit nie net die keuse van moedertaalonderrig of addisioneletaalonderrig
beïnvloed nie, dit beïnvloed ook leerders, studente, ouers, die samelewing en ekonomie en
politiek. ʼn Goeie voorbeeld van die negatiewe gevolge van ʼn moedertaalonderrig is die onluste
in 1976 in Soweto wat ontstaan het as gevolg van die onderrigtaal in skole en tersiêre
instansies. Skutnabb-Kangas (1988:19) sluit aan by die bogenoemde idee, en beklemtoon dat
dit die leerder/student se reg om moedertaalonderrig te ontvang. Sy beklemtoon ook die
intrinsieke waarde van moedertaal in die lewe van leerders en studente.
Die term moedertaalonderrig is egter nie so maklik om te definieer nie, en word volgens Webb
(2006:37) in baie situasie verkeerd geïnterpreteer en daar is dikwels wanpersepsies oor wat
moedertaalonderrig eintlik behels. Volgens Webb (2006:37) is die konsep moedertaalonderrig
problematies. Die eerste rede hiervoor is dat dit sterk gestigmatiseer is, veral onder die swart
leierskap, vanweë die assosiasie met Apartheid. Daarby het die gebruik van Afrikatale as
onderrigmedium sinoniem geword met lae- gehalte onderwys.
Tweedens word die term moedertaalonderrig soms reduksionisties en oorvereenvoudig.
Volgens Webb (2006:38) onstaan die aanname dat daar ʼn eenvoudige deterministiese, een-tot-
een of kousale korrelasie bestaan tussen moedertaal en skolastiese prestasie.
Moedertaalonderrig is wel ʼn belangrike faktor as dit kom by skoolprestasie, dit is egter nie die
enigste bepalende faktor nie, faktore soos swak opgeleide onderwysers dra ook daartoe by.
5
Die derde rede wat Webb (2006:38) gee, is dat moedertaalonderrig in die debat oor
onderrigmedium soms gelykgestel word met die konsep enkelmediumskool. Aangesien die
Suid-Afrikaanse regering se beleide fokus op die beginsels van gelykheid, demografiese
verteenwoordigheid, kinders se reg op goeie onderwys en toegang tot skole. In die praktyk loop
hierdie aandrang dikwels uit op parallelmediumskole, terwyl daar wel aktiviste is wat aandring
op enkel medium skole soos die BCVO-beweging. Moedertaalonderrig kan in parallel-en
enkelmedium skole gebruik word, dit beïnvloed nie moedertaalonderrig nie.
Volgens Louwrens (2003:7) word daar internasionaal aanvaar dat moedertaalonderrig die
effektiefste vorm van onderrig is en in ʼn land met elf amptelike tale is die taal waarin onderrig
geskied ʼn baie belangrike besluit wat die onderwysowerhede moet neem.
Die keuse van moedertaalonderrig staan ook in noue verbintenis met demokrasie. Tollefson
(1991:211) meen dat: “ A commitment to democracy means that the use of the mother tongue at
work and in school is a fundamental human right. This perspective differs from the use of the
mother tongue as an expression of ethnicity, which separates language from questions of power
and domination. Instead, this perspective views language as parallel to race, gender and other
factors as deserving of legal protection, and its measures social justice by the extent to which
societies ensure that individuals may use their mother tongues for education and employment.”
4. Voordele van Moedertaalonderrig
Voor die belangrikheid van moedertaalonderrig bespreek kan word, is dit noodsaaklik om die
konsep van tweedetaalonderrig te verstaan. Die term tweedetaal word gebruik om te verwys na
enige taal wat verskil van ʼn persoon se moedertaal. In die Suid-Afrikaanse konteks is hierdie
taal gewoonlik Engels (Louwrens, 2003:11).
Webb (2006:37) is van mening dat die keuse van onderrigtaal van fundamentele belang is om
die lewenskwaliteit van Suid-Afrikaners te verbeter. Moedertaalonderrig sal Suid-Afrikaners se
toegang tot basiese regte en voorregte, die stryd teen die ongelyke verdeling van skaars
hulpbronne, armoede en ongelykheid, en die stryd teen vooroordeel, diskriminasie en uitbuiting
uit die weg ruim.
6
Volgens Webb (2006:38) fasiliteer moedertaalonderrig die verwerwing van kennis en begrip, en
die ontwikkeling van kognitiewe, affektiewe en sosiale vaardighede volgens leerders se
potensiaal. Die voordele wat moedertaalonderrig vir leerders en studente inhou, het die
afgelope paar dekades baie belangstelling by navorsers ontlok. Die oorgrote meerderheid van
hierdie navorsing toon dat ʼn leerder, by die skool sowel as by sy/haar ouerhuis, in sy/haar
moedertaal onderrig moet word. Hierdie onderrig is volgens Louwrens (2003:6) noodsaaklik vir
die aanleer van akademiese taalvaardighede. Vir ʼn leerder om ʼn tweede of selfs derde taal
suksesvol te kan aanleer moet daar eers ʼn goeie fondasie van taal wees, en dit word slegs
verkry deur doeltreffend moedertaalonderrig.
Volgens Louwrens (2003:5) is daar reeds in 1953 bevind dat moedertaal die effektiefste taal vir
onderrig is. Die eerste sewe jaar van ʼn mens se lewe is die fundamentele vormingsjare vir taal,
juis hierom is moedertaalonderrig veral op primêre onderrig ononderhandelbaar. In die
UNESCO-verslae (1951, 1953 en 1968) soos aangehaal in De Wet (2000:38) word daar
aanbeveel dat individue moedertaal as onderrigmedium moet gebruik vanaf die aanvang van
hulle skoolopleiding en dat daar solank as wat moontlik daarmee volgehou moet word.
UNESCO baseer dié siening op psigolinguistiese, sosiolinguistiese, asook opvoedkundige
beginsels.
Louwrens (2003:8) sluit aan by UNESCO se bevindings deur te sê dat die belangrikheid vir
moedertaalonderrig uit ʼn psigolinguistiese perspektief (met ander woorde die moedertaal is ʼn
teken sisteem wat kognitief die beste vir resepsie en ekspressie is) ʼn sosiolinguistiese
perspektief (die moedertaal is ʼn instrument vir identifisering) en ʼn opvoedkundige perspektief (ʼn
persoon leer vinniger deur middel van moedertaal) kan regverdig word.
Volgens Webb (2006:40) is die sosiale, psigologiese en kulturele funksies van taal in die
onderrigsituasie belangrik. Webb noem dat dit belangrik is om in ag te neem dat taal nie net ʼn
kommunikasiemiddel is nie, maar ook sosio-psigologiese, sosio-kulturele en sosio-ekonomiese
funksies verrig. Taal is ʼn instrument waarmee: Daar sin gemaak moet word van ʼn persoon se
sosiale identiteit, lojaliteit en aansien ontwikkel word. Taal gee aan die individu ʼn sin van
persoonlikheid, eiewaarde, selfvertroue en help om emosionele sekuriteit te ontwikkel. Taal is
ook die medium waardeur waardestelsels verwerf en uitgedruk word, sieninge en persepsies
geformuleer word en kulturele identiteit gekonstrueer en uitgedruk word (Webb, 2006:40).
Ander voordele van moedertaalonderrig onderrig is dat dit bevorder ook die kognitiewe,
affektiewe en sosiale vaardighede wat verband hou met die verwerwing van kennis en begrip,
7
die integrasie van nuwe kennis met bestaande kennis, die verwerwing van insig in die beginsels
en prosesse van ʼn bepaalde vakgebied, die bemeestering van vakkundige konsepte en terme,
die gebruik van konsepte en beginsels in probleemoplossings, asook die vermoë om aan
vakkundige diskoers deel te neem. Opvoedkundige ontwikkeling is nie ʼn spontane proses nie,
dit vind plaas deur middel van doeltreffende kommunikasie met ander woorde dit vind plaas
deur middel van taal, tussen die sender en ontvanger. (Bornman et al, 2014:601).
Juis as gevolg van die bogenoemde is een van die belangrikste goed wat ouers, politici en
leerders moet besef, is dat taalgebruik in ʼn akademiese situasie drasties verskil van taalgebruik
in alledaagse sosiale omgang. Akademiese taalgebruik word gekenmerk deur akademiese
jargon, tegniese terme, abstrakte uitdrukkings en komplekse morfologiese en sintaktiese
strukture wat nie in alledaagse taalgebruik voorkom nie. Aangesien leerders en selfs studente
nie met hierdie vaardighede by die skool of tersiêre instelling aankom nie, moet hierdie
vaardighede ontwikkel word. Om dit aan te leer vat jare, en om dit in ʼn tweedetaal te leer neem
nog langer (Webb, 2006:40).
Volgens Bornman et al et al. (2014:601) is daar ook voldoende navorsing gedoen om te bewys
dat die aanleer van ʼn tweede of derde taal, en die akademiese ontwikkeling van akademiese
vaardighede binne die tweede of derde taal, verbeter word deur die bemeestering van die
moedertaal. Mulley (2012:22) sluit hierby aan deur te noem dat om moedertaalonderrig te
ondersteun verby die vlak van kultuur en ras gaan. Die navorsing wat gedoen is oor die laaste
drie dekades wys duidelik dat onderring in die individu se moedertaal en die latere en
geleidelike aanleer van ʼn tweede taal die beste en suksesvolste onderrigmetode vir leerders is.
Die kennis van moedertaal is dus ʼn belangrike fondament vir die suksesvolle aanleer van
Engels as tweede taal (De Wet, 200:54).
Taal is egter nie net ʼn instrument van kommunikasie nie, maar die speel ook ʼn belangrike rol by
identiteit. Taal is ʼn simbool van sosiale identiteit en word gekoppel aan etniese of kulturele
identiteit. Moedertaalonderrig ondersteun gevolglik ʼn fundamentele aspek van doeltreffende
onderwys, naamlik die ontwikkeling van ʼn positiewe identiteit, wat meebring dat leerders en
studente meer doeltreffend in die samelewing kan funksioneer omrede hulle ʼn beter kennis van
hulle identiteit het, hierdie kennis het weer ʼn toename in selfvertroue en emosionele sekuriteit
tot gevolg (Bornman et al, 2014:601).
Daar is ook baie nie-opvoedkundige redes hoekom moedertaalonderrig die vernaamste keuse
by ʼn onderrigmedium vir Suid-Afrika moet wees. Volgens Webb (aangehaal in Bornman et al,
8
2014:600) het moedertaalonderrig nie net opvoedkundige voordele nie, maar dit is ook ten
voordeel van ʼn individu se sielkundige, sosiale en kulturele ontwikkeling. Moedertaalonderrig is
nie net ten voordeel van die taalgemeenskap nie, dit kan ook die posisie, ontwikkeling en
voorbestaan van ʼn taal verseker.
Die belangrikste voordeel van moedertaalonderrig is volgens Bornman et al et al. (2014:601)
dat die erkenning van plaaslike tale as onderrigtale die sosiale en kulturele groepe verhoog,
meertaligheid sal bevorder, en beslag sal gee aan die erkenning van taalregte. Sodoende word
ʼn verrykte taalmilieu geskep, die gelykwaardigheid van groepe en tale erken en erkenning
gegee aan mense en groepregte.
Volgens Webb (2006:41) sal die erkenning van alle Suid-Afrikaanse tale bydra tot die verhoging
van die sosiale en funksionele betekenis van daardie tale, die bevordering van meertaligheid en
die erkenning van taalregte. Op hierdie manier sal ʼn verrykte taalmilieu in die land gesit word,
sal ʼn gees van meertaligheid bevorder word, sal linguistiese gelykwaardigheid en transformasie
bevorder word en sal ʼn meer simmetriese magsverhouding tussen die tale van Suid-Afrika
gevestig word. Moedertaalonderrig sal bydra tot die realisering van die grondwetlike waardes
van die Suid-Afrika, naamlik die vestiging van ʼn betekenisvolle demokrasie, die bevordering van
gelykwaardigheid en menseregte, die ontwikkeling van die mense van die land, die effektiewe
bestuur van die land, die ontwikkeling van nasionale eenheid en die behou van die land se
diversiteit as ʼn nasionale hulpbron.
Die vernaamste redes vir moedertaalonderrig kan as soos volg saamgevat word:
a) Dit vergemaklik die oorgang tussen die huis en die skool, en die skool en ʼn tersiêre
instelling.
b) Moedertaalonderrig versterk die belangrikheid van gelokaliseerde taalgebruik en
identiteit.
c) Moedertaal is die primêre draer van kulturele identiteit. Daarom is daar ʼn positiewe
verband tussen taal en kultuur. Met ander woorde ʼn leerder wat in ʼn tweede of derde
taal onderrig word, kan moontlik probleme met sy/haar kulturele identiteit ondervind
(Louwrens, 2003:8).
9
d) Linguistiese en kognitiewe ontwikkeling word deur die gebruik van moedertaal
gefasiliteer. Die verwerwing van taalvaardighede soos skryf en lees kan moeiliker wees
om te bereik wanneer ʼn niemoedertaal gebruik word nie.
e) Lees is een van die belangrikste vaardighede wat ʼn persoon moet leer en bemeester.
Navorsing toon dat die leesproses afhanklik is van gesproke taal. ʼn Leerder maak
gebruik van ouditiewe simbole om visuele simbole te begryp. As die leerder in die
primêre fase nie in sy/haar moedertaal leer om te lees nie, kan die verskil tussen
ouditiewe simbole en visuele simbole taalverwarring veroorsaak en dit kan lei tot ʼn
leesagterstand wat die leerder nooit kan inhaal nie (Louwrens, 2003:8).
f) ʼn Mens dink in jou moedertaal. Omdat denke geskied deur taal veroorsaak
taalverwarring dat ʼn individu nie sy/haar volle potensiaal kan berei nie aangesien hulle
denkvermoë beïnvloed word.
g) Moedertaalonderrig beteken ook dat die erkenning wat gegee word aan leerders se
moedertaal, sal bydra tot die vestiging van ʼn verrykte taalmilieu wat pedagogies
belangrik is (Webb, 2006:41).
Moedertaalonderrig sal dit dus moontlik maak vir meer mense om toegang tot onderrig te kry.
Die toegang tot opvoeding sal die geleerdheid van die Suid-Afrikaanse bevolking verhoof en sal
tot ʼn beter samelewing lei. Dit is daarom duidelik dat moedertaalonderrig talle voordele vir die
leerder, student, ouer en hele Suid-Afrikaanse samelewing inhou aangesien vandag se
benoude kind môre se opgeleide en veeltalige werker is- of dan nie (Mulley, 2012:23).
[5.] Nadele van niemoedertaalonderrig:
Dit is duidelik watter voordele moedertaalonderrig inhou, die nadele van onderrig in ʼn tweede of
derde addisionele taal word egter dikwels oor die hoof gesien of van self sprekend beskou. Tog
is daar talle nadele wat uitgelig moet word, om die keuse van moedertaalonderrig in Suid-
Afrikaanse skole te regverdig.
ʼn Opstapeling van probleme soos swak opgeleide onderwysers, ʼn ongeskikte kurrikulum, ʼn
tekort aan goeie skoolfasiliteite, die onderwyser se onvermoë om met die leerders te
kommunikeer, aangesien die opvoeder ook nie die onderrigtaal verstaan nie, maak suksesvolle
onderrig in Suid-Afrikaanse skole onmoontlik (Benson, 2004:2).
10
Die grootste faktor wat bydra tot hierdie onsuksesvolle onderrig is die keuse van
moedertaalonderrig. Onderrig deur middel van ʼn tweede taal wat leerders nie verstaan nie
word deur Skutnabb-Kangas (2000) genoem “submersion”. Volgens haar is onderrig in ʼn nie-
moedertaal gelykstaande daaraan om ʼn persoon se kop onder water te hou sonder om
hom/haar te leer hoe om te swem.
Dit is duidelik dat talle leerders verdrink in die Suid-Afrikaanse onderwyssisteem. Van die redes
hiervoor is dat kritieke bewussynsontwikkeling plaasvind in ʼn individu se moedertaal, kan
niemoedertaalonderrig ʼn leerder negatief beïnvloed. Volgens Louwrens (2003:9) het kommer
onstaan oor die ontwikkeling van leerders se hoër bewussynsfunksies, soos begripsdenke en
logiese geheue wanneer hulle in ʼn tweede taal onderrig word. Heugh (aangehaal in Louwrens,
2003:9) sluit hierby aan deur te noem dat ʼn leerder bewussynsryp moet wees voordat die
leerder ʼn addisionele taal kan aanleer, wat die meerderheid Suid-Afrikaanse leerders nie is nie.
ʼn Uitgebreide ondersoek het bewys dat leerders wat in hul moedertaalonderrig word tot ses
persent beter presteer as leerders wat in ʼn niemoedertaalonderrig word. Navorsing het getoon
dat leerders wat te gou in ʼn ander taal onderrig word, ʼn groot agterstand het, as hulle vergelyk
word met leerders wat die voorreg van moedertaalonderrig geniet (Louwrens, 2003:9).
Dit is hierom duidelik dat die té vroeë aanleer van ʼn tweede taal ʼn negatiewe uitwerking op ʼn
leerder kan hê. Navorsing toon ook dat leerders wat niemoedertaalonderrig ontvang, ook
emosionele en gedragspatrone probleme ondervind. Simptome soos angstigheid, aggressie,
ontrekking en frustrasie is gerapporteer. Die redes hiervoor is dat die leerders nie die
instruksies van die onderwyser kan verstaan nie (Louwrens, 2003:10). Leerders wat in ʼn
tweede taal onderrig word, is gewoonlik ook frustreer as gevolg van die leerder se onvermoë
om te kan kommunikeer. Die leerder hierom voel geïsoleer en hulploos. Saam met die
frustrasie voel leerders ook angstig en verlore en hulle raak selfbewus oor hulle onvermoë om
die tweede taal te verstaan en te gebruik.
Leerders kan ook nie aan die skool se slaag vereistes voldoen nie. Aangesien leerders nie
byvoorbeeld die huiswerk verstaan nie, doen hulle dit eenvoudig nie. Leerders is dan onder
geweldige druk aangesien hulle nie aan die skool se vereistes kan voldoen nie.
11
5.[6.] Engels as onderrigtaal
Met al die voordele van Moedertaalonderrig onstaan die vraag dan, hoekom die meeste Suid-
Afrikaners wel niemoedertaalonderrig ontvang. En hoekom Engels die meerderheid Suid-
Afrikaners se eerste keuse is as dit kom by die keuse van ʼn onderrigtaal.
Op grond van hierdie voordele sou daar aanneem kon word dat moedertaalonderrig ʼn
vanselfsprekende keuse vir alle Suid-Afrikaners sal wees in skole sowel as by tersiêre
instellings. Dit is egter nie in Suid-Afrika die geval nie. Navorsing toon ʼn toename in Engels as
onderrigtaal, onder alle Suid-Afrikaners (Bornman et al, 2014:602).
Volgens Webb (2006:42) is die redes vir die keuse van Engels as onderrigtaal die volgende:
Aangesien Suid-Afrikaanse klaskamers meertalig is, is die enigste uitweg om die lingua franca,
met ander woorde Engels, te gebruik as onderrigmedium. So Engels kry voorkeur omrede dit
die enigste taal waarin baie niemoedertaalsprekers van Engels in Suid-Afrika onderrig word.
In Suid-Afrika is talle ouers van mening dat Engels die taal van onderrig moet wees omdat dit
hul kinders in staat sel om nasionaal sowel as internasionaal te kan kommunikeer. Ouers sien
Engels as die wegspringblok wat hulle kinders ʼn voorsprong sal gee in hulle studies, werk en
lewe (Louwrens, 2003:11). Volgens Bruynse (1996:30) word Engels deur Suid-Afrikaners as
volg beskou: “ I expected some debate and engagement with the topic, but I receive the flat,
unanimous response: English is the best, all people should learn it and forget other languages,
which are useless, especially in education and the job market.”
De Wet (2000:38) sluit by Louwrens (2003:11) en Bruynse (1996:30) aan deur te noem dat die
onstaan van hierdie persepsie van Engels as die beste taal vir onderrig, onstaan het as gevolg
van Suid-Afrikaanse ouers, leerders en studente se siening as Engels as die lingua franca van
die meertalige Suid-Afrika. Veeltaligheid word volgens De Wet (2000:39) gesien as ʼn
belemmering van nasionale eenheid. Engels word bestempel as die sleutel tot nasionale en
internasionale samewerking. Engels word gesien as die taal van internasionaal kommunikasie
en diplomasie.
Hierdie tendens het veral toegeneem onder Afrikaanssprekendes. Vandag plaas al hoe meer
Afrikaanssprekende ouers hul kinders in Engelsmediumskole omdat hulle glo dat Engels die
enigste wyse is waarop kinders voorberei kan word vir die internasionale eise wat in die
12
toekoms aan hulle gestel word. Ouers glo ook dat onderrig in Engels hul kinders ʼn voorsprong
sal gee wat hul studies en werksmoontlikhede aanbetref (Louwrens, 2003:6)
Engels is ook vir baie die taal van toegang wat vir hulle al die belangrike regte en voorregte van
die land opsluit. Engels stel hulle in staat om internasionaal te kan kommunikeer en om deel te
neem aan die moderne tegnologiese globaliserende wêreld. Juis omdat Engels die taal van
tegnologie en ekonomie is sien baie Suid-Afrikaanse Engels as die taal van die toekoms, die
taal van vooruitgang en geleenthede (Louwrens, 2003:11). Schneider (1998:8) verwerp die
bogenoemde deur die volgende stelling te maak: “Parents want their children to learn English
first, thinking that it is the only means by which to achieve success. To side-line the mother
tongue is crazy...If kids can master their mother tongue, then the transfer to English is simple.”
Suid-Afrikaners sien Engels as die taal van handel, nywerheid, bankwese en moderne
tegnologie. Daarteen word Afrikatale, insluitende Afrikaans, deur baie swart mense as
ondergeskikte tale beskou. Daar word geglo dat die taal nie die nodige infrastruktuur en
woordeskat het om in die moderne tegnologiese eeu as onderrigmedia te dien nie. Omdat
leerders en studente hulle moedertale in ekonomiese terme beoordeel, minag sommige van
hulle, hulle moedertale (De Wet, 2000:40).
Nog ʼn keuse vir Engels as onderrigmedium is omdat Engels vir baie ouers ook ʼn statussimbool
geword (Louwrens, 2003:11). Veral onder swart Suid-Afrikaners het die persepsie ontstaan dat
Engels hulle uit hulle agtergebelwe posisie sal ophef en dat die kennis van Engels noodsaaklik
is om ʼn goeie werk te kry (De Wet, 2000:40). Die hoë prioriteit wat die meerderheid Suid-
Afrikaners op Engels as onderrigmedium plaas, weerspieël hulle oortuiging dat kennis van
Engels hulle ekonomies, polities en opvoedkundig sal bemagtig (De Wet, 2000:52).
Vir ouers bied Engels as onderrigtaal werksgeleenthede en ekonomiese vryheid. Baie ouers wil
hulle kinders in Engels laat onderrig omrede hulle wil emigreer of omdat hulle wil hê die kinders
moet na skool of universiteit oorsee moet gaan werk (Louwrens, 2003:13).
Die regering sien weer Engels as onderrigtaal as ʼn goedkoper uitweg omrede Engels reeds ʼn
akademiese gevestigde taal is so handboeke is makliker om in die hande te kry. Volgens Webb
(2006):41) word daar soms beweer dat moedertaalonderrig in veral die Afrika-tale nie ingestel
kan word nie, omrede dit te duur sal wees om hierdie tale te ontwikkel Engels, daarenteen word
geredeneer, is reeds maksimaal ontwikkel vir opvoedkundige gebruik omdat dit reeds beskik
oor al die nodige tegniese terme en registers, handboeke en leermateriaal. Die gebruik van
13
Engels sal dus goedkoper wees. De Wet (2000:45-46) sluit aan by hierdie stelling en noem ook
die redes waarom Afrikatale nie as onderrig medium kan dien nie. Volgens De Wet (2000:45-
46) is daar nie genoeg handboeke vir Afrikatale beskikbaar nie. Afrikatale het ʼn beperkte
woordeskat. Akademiese en tegnologiese terme is nie in Afrikatale beskikbaar nie. Die koste
verbonde aan die ontwikkeling van Afrikatale om as onderrig media te dien, sal te hoof wees. ʼn
Veeltalige onderwysstelsel is te duur. Indien Engels die enigste onderrigmedium in die land is,
sal baie geld gespaar word. Hierdie siening is egter nie goed deurdink nie want volgens Webb
(aangehaal in Bornman et al, 2014:602) is die instelling van ʼn nuwe taal slegs 4.5% meer as die
gebruik van ʼn taal soos Engels. Webb noem egter dat hierdie koste verbonde aan die instelling
van ʼn nuwe taal met tyd sal wegval. Hy meen dat die verskil in die koste regverdig word deur
die verhoogde slaagsyfers van leerders wat nou in hulle moedertaalonderrig word.
Wat daar egter ook in gedagte gehou moet word, is dat Engels in werklikheid nie ʼn neutrale taal
is nie, dit weerspieël die Westerse identiteit (Bornman et al, 2014:602). Dit is ook belangrik om
in ag te neem dat die kind se werklike taalbehoeftes altyd voorkeur moet geniet, want enige taal
is net van nut sodra die taal uiteindelik ʼn nuttige instrument kan word wat sy/hy funksioneel in
sy/haar leefwêreld kan gebruik (Louwrens, 2003:14).
Bornman et al et al. (2014:602) sê dat Engels ʼn groot impak op leerders, studente en uiteindelik
die Suid-Afrikaanse samelewing kan hê, aangesien die houding van die taalgemeenskap
teenoor die taal, een van die belangrikste faktore wat die lewenskragtigheid van die taal bepaal.
Daar word onderskei tussen drie komponente van taalhoudings op opinies maak, naamlik: ʼn
kognitiewe, affektiewe en gedragskomponente. Met ander woorde denke, opinies, gevoelens
en taalkeuses. Wat die affektiewe komponent betref, toon navorsing dat die belangrike rol van
taaltrots speel. Ander belangrike faktore is die waarde wat sprekers aan hulle taal heg en die
rol wat die taal in die definiëring van hulle identiteit speel.
Wat die kognitiewe komponent betref, is dit onwaarskynlik dat ʼn individu ʼn ander taal behalwe
sy haar moedertaal sal kies as onderrig taal as sy/hy bewus is van die voordele wat moedertaal
inhou soos byvoorbeeld dat dit die aanleer van ʼn tweede taal verbeter. Dit is dus moontlik om
moedertaalonderrigmoedertaal onderrig te ontvang en ʼn hoë vlak van vaardigheid in
byvoorbeeld Engels te bereik. Die wêreldwye wanpersepsie oor Engels as die beste taal, maak
egter hierdie siening moeilik (Bornman et al, 2014:602).
14
[7.] MoedertaalonderrigMoedertaal onderrig in Suid-Afrika:
Volgens Bornman, Pauw en Potgieter (2014:599) het die meeste skole en universiteite voor
1994, slegs enkelmedium-onderrig toegepas. Afrikaans was die dominante onderrigmedium in
Suid-Afrika tot en met 1994. Hierdie situasie het met die nuwe politieke bedeling egter drasties
verander. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, wat in 1996 geïmplementeer is, was
veronderstel om die fondament te lê vir kulturele en taalgelykheid. Hierdie wet sou ook
meertaligheid bevorder op alle gebiede van die Suid-Afrikaanse samelewing maar veral in die
gebied van opvoedkunde.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet (RSA, 1996) erken taal as ʼn basiese reg van die individu en
benadruk die volgende:
a) Elke persoon het volgens Artikel 30 van die Grondwet (RSA, 1996) die reg om die taal
van sy/haar keuse te gebruik om mee te kommunikeer.
b) Volgens Artikel 29 (RSA, 1996) het wat onderwys betref, elke persoon die reg op
onderrig in die taal van sy/haar keuse, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is.
c) Volgens Artikel 6 (RSA, 1996) maak die Grondwet daarvoor voorsiening dat elke
persoon, waar dit uitvoerbaar is, die reg het om aan te dring dat die staat met hom/haar in die
taal van sy/haar keuse kommunikeer op nasionale vlak, asook op provinsiale vlak in enige van
die betrokke provinsie se amptelike tale.
Volgens Bornman et al et al. (2014:599) sou beleide soos die Taal-in-Onderwysbeleid van 1997
en die Taalbeleid vir Hoër Onderwys van 2002 moedertaalonderrig oor ʼn breë front vir alle Suid-
Afrikaners moontlik maak. Hierdie beleide het egter die teenoorgestelde tot gevolg gehad.
Volgens navorsers soos Carstens, Balfour, Heug en Beukes (aangehaal in Bornman et al,
2014:599) het moedertaalonderrig in Suid- Afrikaanse skole sowel as in tersiêre
onderwysinstellings baie agteruitgegaan. Inteendeel sedert 1994 het daar ʼn geweldige
verengelsing van die onderwyslandskap plaasgevind.
Volgens Oosthuizen en Rossouw (2001:633) het die minister in Februarie 1996, as basis vir die
Suid-Afrikaanse Skolewetsontwerp van April 1996, ʼn algemene onderwysbeleidsverklaring in
die vorm van ʼn Onderwyswitskrif uitgevaardig, waarin die standpunt van billikheid teenoor alle
15
groepe sterk beklemtoon word. Enersyds word daar in die inleiding tot die Witskrif ontken dat
die onderwysdepartement onwillig is om die taal – en kultuurverskeidenheid te beskerm,
andersyds word dit ook duidelik gestel dat die onderwysdepartement nie kan toelaat dat
rasgebaseerde bevoorregting op ʼn onbillike diskriminerende wyse weer opvlam nie. Die Suid-
AfrikanseSuid-Afrikaanse regering se beleide het dus meer skade berokken, as wat verwag is.
Moedertaalonderrig is hierom grootliks ondermyn deur die gebrek aan behoorlike
implementering van regeringsbeleide en amptelike dokumente. Hierdie dokumente is in die
meeste gevalle dubbelsinnig, skep ʼn wanbegrip en die oorspronklike klem wat op
moedertaalonderrig geplaas is, is heeltemal vervaag. Veeltaligheid in hoëronderwys word ook
belemmer deur die regering se passiewe strategieë wat Engels bevorder. As gevolg hierdie
gebrek aan ondersteuning en aansporing van die regering is daar min toewyding by die land se
topbestuur sowel as by universiteits-– en skoolpersoneel om veeltaligheid te bevorder, daar
word eerder die maklike uitweg gevolg, en Engels word as onderrig taal gebruik (Bornman et al,
2014:599).
In Suid-Afrika sal die regering meer moet doen om kulture, tale en godsdienstige belange te
beskerm. ʼn Tipiese voorbeeld van hoe die taalbeleid deur die mat val is dat die Suid-Afrikaanse
Grondwet (RSA 1996) noem dat dit van belang is dat elke kultuur en taal gehandhaaf en
ontwikkel moet word, en dat elke Suid-Afrikaner die reg het om in sy/haar moedertaal te
kommunikeer. Die probleem volgens Van der Walt en Steyn (2014:823) is egter dat as gevolg
van die regering se onvermoë om hulle beleide toe te pas, hierdie wet meer simbolies as
prakties van belang is.
Uit die bogenoemde is dit duidelik dat die regering ’n groot invloed het op die onderrigtaal in
Suid-Afrika, hulle is egter nie die enigstes wat die taal beïnvloed nie. Die taalgebruik word ook
beïnvloed deur die lede van die taalgemeenskap. Volgens Bornman et al et al. (2014:600) is die
rede hiervoor dat ʼn taalgemeenskap se keuses teen of vir ʼn taal, ander tale geweldig kan
beïnvloed. Dit is daarom uiteindelik die lede van die taalgemeenskap wat ʼn taal se voorbestaan
bepaal. Die keuse van onderrigtaal is veral afhanklik van die taalgemeenskap, aangesien
individuele soos studente, leerders en hul ouers daagliks in Suid-Afrika die keuse maak van
onderrig in moedertaal of in Engels.
Daar is ʼn verskeidenheid faktore wat bygedra het tot die agteruitgang van moedertaalonderrig in
Suid-Afrika. Volgens Bornman et al et al. (2014:599) is een van die beste voorbeelde van
verengelsing die druk wat veral Afrikaanse Universiteite ontvang om onderrig in twee of meer
16
tale aan te bied aangesien die regering van mening is dat onderrig in Afrikaans ʼn struikelblok vir
baie leerders is wat wil toegang verkry tot universiteit.
Moedertaalonderrig word ook deur verskeie sosiale en ekonomiese faktore ondermyn. Die hoof
rede hieroor is dat Engels as lingua franca, en die taal van nasiebou in Suid-Afrika gesien word.
Die gebruik van Engels in alle aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing word dus deur die
regering aangemoedig. Volgens Bornman et al et al. (2014:599) speel globalisering ook ʼn
belangrike rol. Die feit dat Engels die lingua franca van die wêreld is, het veroorsaak dat die
bemeestering van Engels ʼn noodsaaklikheid vir alledaagse kommunikasie geword het.
Aangesien Engels as die wêreldtaal gebrandmerk is, word dit ook toenemend in die handel en
ekonomie in Suid-Afrika gebruik. Volgens Bornman et al et al. (2014:599) het Engels ook
toegeneem onder die verstedelikte middelklas, en word veral onder die swart middelklas gesien
as ʼn simbool van status.
Volgens de Wet (2000:53) is dit duidelik dat die huidige onderwysstelsel nie aan die behoeftes
van die meerderheid van sy kliënte voldoen nie. Daar moet hierom ʼn paradigmaverskuiwing
plaasvind, sodat moedertaalsprekers van Afrikatale. Sprekers van Afrikatale sal eerstens
daarvan oortuig moet word dat hulle tale meer as net sosiale en kulture betekenis het. Hulle
moet glo dat hulle politiese, ekonomies en opvoedkunde bemagtig kan word deur hulle
moedertale.
Die pleidooi vir moedertaalonderrig moet egter nie gesien word as ʼn miskenning van Engels nie.
Dit is belangrik dat leerders die dominante taal van die wêreld – Engels- magtig moet wees (De
Wet, 200:55). Alexander (1998:6) noem dat : “ English is not only an international language, but
it’s a language which for many, many decades still is going to open up job possibilities for
anybody who wishes to get a good job in South Africa.”
6.[8.] Gevolgtrekking
Dit is duidelik uit die bogenoemde literatuur dat moedertaalonderrig baie steun geniet. Dit is
duidelik dat leerders die beste leer in die taal wat hulle die beste ken, aangesien hulle self
daarin hul denkvermoë en gevoelslewe kan ontwikkel. Uit die bogenoemde literatuur is dit
17
duidelik dat moedertaal belangrik is, aangesien dit noodsaaklik is vir self uitdrukking,
sosialisering en kommunikasie. Die navorsing, wat die laaste dekade gedoen is, toon ook dat
die meerderheid Suid-Afrikaanse leerders, studente, ouers en opvoeders se
onderrigmediumkeuse deur twee goed beïnvloed word, naamlik dat kennis van Engels tot
ekonomiese, politieke en opvoedkundige bemagtiging sal lei, en dat die vermoë om Engels
volkome te kan skryf en praat afhanklik is van die taal se status as onderrigmedium (De Wet,
2000:52).
Die Suid-Afrikaanse regering los ook vir veral sprekers van Afrikatale, geen opsies as Engels as
onderrigtaal nie (Webb, 2006:38). Die belangrikheid van Engels as tweede of derde addisionele
taal moet egter ook beklemtoon word, aangesien daar geen twyfel is oor die belangrikheid van
Engels in die wêreld nie. Dit moet egter net vir Suid-Afrikaners duidelik word dat Engels nie die
alfa en die omega is nie (Botma, 2010:1)
As gevolg van taalgebruikers en die Suid-Afrikaanse regering se sieninge oor Engels en
omrede die taalgemeenskap se keuse van onderrig taal, net soveel, indien nie meer, gesag dra
as die opinies van navorsers en kenners, is dit noodsaaklik om ʼn nuut gedefinieerde
moedertaalonderrigbeleid te skep. Dit is ook noodsaaklik Suid-Afrikaners bewus te maak van
die voordele wat moedertaalonderrig inhou, of die kennis van die voordele van
moedertaalonderrig hulle keuse wel sal beïnvloed, is ʼn ander vraag.
Wat wel seker is, is dat onderwys van die grootste waarde binne ʼn menseregtekultuur. Nie net
rus dit die leerder toe met die nodige kundigheid en vaardigheid vir ʼn sinvolle beroep nie, dit is
ook ʼn geskikte instrument om ʼn menseregte kultuur oor te dra (Oosthuizen& Rossouw,
2001:656). En volgens Malherbe (1997:97) is moedertaalonderrig een van die kragtigste
middele wat onderwysgeleenthede vir alle Suid-Afrikaners moontlik sal maak.
Suid-Afrika se toekoms is multikultureel en meertalig, en by skole sowel as tersiêre instellings is
vaardighede in ʼn Afrikataal, insluitende Afrikaans, en ander landstale soos Engels ʼn belangrike
eienskap van gegradueerdes. Volgens Botma (2010:1) kan nog Afrikaans, nog Engels, nog
enige ander taal op sy eie aan die behoeftes van Suid-Afrikaners voldoen of help om die soort
toekoms te vorm wat hierdie land wil hê.
18
7.[9.] Bronnelys
Alexander, N. 1998. MultilingualismMultilinguism and the new curriculum. Praesa News, (4):6-7.
Alexander, N. 29 Junie 2007. Etlike gedagtes oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika na
Apartheid. Beskikbaar: http://www.litnet.co.za/etlike-gedagtes-oor-moedertaalonderrig-in-suid-
afrika-na-apartheid-2006/ Datum van gebruik: 20 Junie 2015
Benson, C. 2004. The importance of mothertongague-based schooling for educational quality.
The Quality imperative: Educationa For All global monitering Report, 2005.
Beukes, A. 1992. Moedertaalonderrig in ʼn demokratiese Suid-Afrika. Per Linguam, 8(1):42-51.
Booyse, C. 1992. Onderrigstrategieë ter verbetering van die houding van leerlinge teenoor
Afrikaans as skoolvak. NWU: Potchefstroomkampus (M-Verhandeling).
Bornman, E., Pauw, J.C. & Potgieter & Potgieter, P. 2014. Houdings en opinies oor
moedertaalonderrig en die keuse van ʼn universiteit: Afrikaansprekende studente aan Unisa.
Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):596-609.
Botma, H.R. 2010. ʼn Ubuntu van Tale: Meertaligheid in die Hoëronderwys. Afrikaanse Taalraad-
onderwyskonferensie. Kaapstad, 28 Aug.
Bruynse, I. A radical shift. Bua!, 10(2):30-31.
19
Carstens, WAM. 2006. Die breë debat (1994−2005) oor die toekoms van Afrikaans: Enkele
temas en perspektiewe. Supplement ‒ Moedertaalonderrig: Tydskrif vir
Geesteswetenskappe:12-36.
De Wet, C. 2000. Die invloed van taalhoudings op onderrigmediumkeuse in Suid-Afrika.
Literator, 21(3):37-57.
Edwards, J. 1985. Language society and identity. Oxford:Blackwell.
Louwrens, L. 2003. Moedertaalonderrig as moderator by die verband tussen
intelligensiekwosiënt en akademiese prestasie. Universiteit van die Vrystaat. (Verhandeling -
M.Soc.Sc.)
Malherbe, E.F.J. 1997. Reflections on the background and content of the education clause in
the South African Bill of Rights. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, (1):85-99.
Mulkey, H. 2012. The importance of Mother Tongue literacy in your child’s education. Focus,
22-23.
Nel, C. 2015. Afrikaans as onderrigtaal: Aggressie is Afrikaans se doodsteek. Die Burger:6, 3
Maart.
O’Connor, M. 2005. Afrikaans groei wel nog, sê hoogleraar. Volksblad:7, 12 Feb.
Oerson, D.O. 2002. Leerders se belewenis van onderrig en leer in ʼn tweede of derde taal.
Johannesburg: Universiteit van Johannesburg (M-Verhandeling).
20
Oosthuizen, I.J. & Rossouw, J.P. 2001. Die reg op basiese onderwys in Suid-Afrika. Koers,
66(4):655-672.
RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1996. Die Suid-Afrikaanse Grondwet. Pretoria:Staatsdrukker.
Skuttnabb-Kangas, T. & Cummings, J. 1988. Minority Education. Clevedon: Multilangual
Matters.
Skutnabb-Kangas, T. 2000. Linguistic Genocide in Education – or Worldwide Diversity and
Human Rights? Mahwah NJ:Lawerens Erlbaum.
Skutnabb-Kangas, T. 1988. Multilingualism and the education of minority children.
Clevedon:Multilingual Matters, 9-44.
Van der Walt, J.L. & Steyn, H.J. 2014. Die erkenning van minderheidsgroepe, hulle ideale en
hulle onderwysstrewes:Is daar ʼn manier? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):820-834.
Van Zyl, R. 2009. Taalvaardighede as voorvereiste vir suksesvolle kommunikasie. Beskikbaar:
https://ujdigispace.uj.ac.za/bitstream/handle/10210/1849/cHOOFSTUK4en5.pdf?sequence=3
Datum van Gebruik: 2 Junie 2015
Webb, V. 2006. Perspektiewe op moedertaalonderrig. Supplement-Moedertaalonderrig:
Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 37-50.
21
Recommended